Blinde mag kinders besoek (Rapport)

Daar is nuwe hoop vir die blinde Zimbabwiese vrou wie se baba deur wetstoepassers uit haar arms geruk is terwyl sy op ’n straathoek gebedel het. Die beeldmateriaal van die getraumatiseerde vrou en haar huilende baba (18 maande) het lesers die afgelope week aangegryp en fel kritiek van menseregtegroepe ontlok. Die vrou se ander kind (4) is ook by haar afgeneem. 

Rapport het gister die vrou – wie se naam ingevolge die wet nie genoem mag word nie om die kinders te beskerm – opgespoor en met haar gepraat. Die goeie nuus is dat sy gister weer haar kinders sou kon sien. “Ek wag nou dat hulle my kom haal om hulle te gaan sien. Hulle (die personeel van die sentrum waar sy bly) het gesê ek kan maar gaan,” het sy gesê. 

En in nog ’n wending gaan ’n groothartige Pretoriase oogspesialis die vrou volgende week ondersoek om vas te stel of hy haar sig sal kan herstel. Dr. Pieter Oosthuizen het Rapport vroeër gekontak en aangebied om gratis ’n operasie uit te voer. Rapport sal die vrou nou na hom toe neem vir ’n ondersoek. Sy was opgewonde oor die moontlikheid dat sy haar sig kan terugkry. 

Die vrou het gister vertel sy is verlig dat sy die kinders weer sal kan sien. Sy borsvoed nog die jongste kind. Sy gaan ook nou toegelaat word om weer by haar man, ’n blinde Zimbabwiese asielsoeker in Johannesburg, te woon. 

Die Sentrum vir Kinderregte aan die Universiteit van Pretoria en Regslui vir Menseregte het ’n dringende aansoek in die Pretoriase hooggeregshof gebring om die kinders wat tydens die “klopjag” weggeneem is, met hul ouers te verenig. Uit dié aansoek blyk dit dat die driejarige dogter van ’n Mosambiekse skoenmaker, wat in ’n tweede voorval dié dag weggeneem is, steeds glo haar ouers het net gou vir haar iets by ’n winkel gaan koop – en dat hulle “nou-nou” terugkom .

Die skoenmaker en sy vrou (wat gewoonlik na die kind omsien, maar op dié dag in die hospitaal was om geboorte te gee) kon eers Maandag weer hul kind sien omdat die plek van veiligheid verlede naweek gesluit was. Toe die kind ontsteld was omdat die ouers weer moes gaan, het hulle vir haar gesê hulle sal “nou-nou” terug wees. ’n Tweede deel van die hofaansoek behels ’n versoek om ’n ondersoek te gelas na die optrede van maatskaplike werkers wat betrokke was. Die aansoekers versoek voorts dat die Gautengse LUR vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling ’n plan voorlê rakende maatskaplike dienste vir diegene wat op straat is.

Die dringende deel van die aansoek staan tot oormôre oor sodat die provinsiale departement op hofstukke kan antwoord.

Mnr. Mandla Sidu, woordvoerder van die departement, het aan Rapport gesê hy stem nie saam met die kritiek teen hulle nie: “Alles wat ons gedoen het, was binne die raamwerk van die wet.” Volgens hom het hulle ses kinders na plekke van veiligheid geneem en maatskaplike werkers ondersoek nog hul omstandighede.

Me. Carina du Toit van die Sentrum vir Kinderregte sê in ’n verklaring hulle is ten gunste van ondersoeke na kinders se welsyn. Om kinders sonder ’n hofbevel weg te neem terwyl dit nie ’n noodgeval is nie, is blote magsvertoon.

Herman Scholtz